Crista: https://christavanstaden.com/2020/07/09/sykouse-in-qazaqstan/ skryf oor sykouse wat sy moes dra toe sy skoolgehou het vroeër jare.
Hester: https://www.hesterleynel.co.za/2020/07/12/sykouse-tights-pantyhose-skinny-jeans-leggings-en-jeggings/ skryf ‘n hele interessante blog oor sykouse, broekiekouse en vandag se jeggings
Ek kan die volgende byvoeg:
Terwyl ek op kollege was het ons steeds sykouse gedra met skoene. Veral ook in die winter en as ons gaan proef het. As jong meisie het ons wit sokkies en skoolskoene(of netjiese skoene) aangetrek sondagskool toe.
Die eerste sykouse wat ek gedra het, het nate gehad wat reguit moes wees. Jy het die kouse afgerol tot by tone en dan versigtig stelselmatig opgetrek oor die voet en dan die hak. Kouse het ook geweefde hakke gehad wat jy baie versigtig oor jou hakskeen moes trek. Dan het jy stelselmatig, terwyl jy kyk, die kous opgetrek met die naat presies reguit op, oor jou kuit en bo been. Die kouse is met n kousophouer bo gehou. Jy knip die kous op twee plekke vas. Een aan voorkant van jou been en een aan sykant van jou been. Dan kom die volgende kous aan die beurt.
Die lere wat mens in kouse gekry het was meestal deur skoene gemaak of as dit aan ‘n splinter of growwe plek gehaak het. Omdat die kous meestal donkerder as jou bene was kon mens dadelik sien as daar ‘n leer was. Jy het naellak in jou handsak saam gedra ingeval van nood. Die leer is aan bokant toegesmeer sodat dit nie verder leer nie. Die naellak het ook aan jou been vasgekleef. As jy saans kouse uittrek moes jy versigtig dit lostrek sodat jy nie jou vel ook saam aftrek nie.
Toe ek begin skoolhou, 1968, moes ons altyd sykouse aanhê en netjies geklee wees. Geen langbroeke of kaal bene nie. Gelukkig het dit verander sodat ons wel in die somer sandale kon dra. Die step-in of kousgordel het ook sommer baie dames se magies ingehou. Ek het dit nie nodig gehad nie want ek was maar maer van aard.
Ek onthou in my eerste jaar van skoolhou het dikker kouse uitgekom met ‘n rek aan bokant wat die kous bo hou. Ek het vir die eerste keer ‘n paar gekoop en aangetrek.
Thigh-High Stockings
Baie bly om nie die gordel te dra nie. Ongelukkig was my bobeen bietjie dun en die rek bo het bly afsak. Ek moes elke nou en dan gou kleedkamers toe gaan om weer die goed behoorlik op te trek. Dit was die laaste van daardie kouse. Het maar weer terug na koushouer gegaan.
Broekiekouse het die lewe baie vergemaklik. Mens het te kus en te keur gehad; dikker, ragfynes, eers net swart en donker bruines tot later alle kleure onder die son en ook later met verskillende patrone op. Visnet kouse was op n stadium ook hoog in die mode.
Die broekiekouse het my lewe gered. Daar was nie meer so baie lere wat toegeplak moes word nie omdat dit van sterker nylon gemaak is wat net gehaak het en dan het jy net die draad na die binnekant toe deurgetrek. Jy kon selfs ‘n leer se steek met ‘n hekelpen optel en weer boontoe op hekel tot waar leer begin het.
Laat ‘n boodskap na HesterLeyNel Kanselleer antwoord