Ek glo daar is…
Maak nie saak wat of in wie jy glo nie daar is beslis iets wat krag het om te beskerm en te help.
Ek is ‘n Christen en glo dat God in beheer is en sal voorsien. Dit maak nie saak waaraan of waarin jy glo nie daar is beslis ‘n buite krag.
Hierdie jaar het ek weereens gesien dat die mens wik maar God beskik.
Ek is lankal besig om te dink om aansoek te doen om NZ pensioen te kan kry. My SA pensioen is so min dat ek nie regtig daarop kan oorleef nie. Daarom werk ek, en daar is ook ‘n moontlikheid dat dit kan opdroog ook. Einde verlede jaar het ek al begin en daar was net nie vordering in nie. Toe in die begin van die jaar kon ek aanlyn die bal aan die rol sit. In bestek van ses weke was alles uitgesorteer en het ek my eerste NZ betaling gekry.
Die beste is, dat ek twee maande se terugbetaling gekry het ook. Min wetende wat sou gebeur.
Toe begin die Corona Virus versprei. Ek praat Sondag net nadat die lughawe hier gesluit is met een van die ouers in ons Mall. Sy kom toe terug van Australië. Minwetende dat die virus aansteek soos blits en jy kry dit.
Die Maandag is daar twee kinders wat in naskool was wat ook van oorsee terug gekom het. Beide gesinne was veronderstel om in twee weke self afsondering te gaan. Dit het my toe nog meer ontstel toe die Eerste Minister praat van “high risk”mense. Mense bo 70 (in my geval) en ook met borskwale(ook in my geval met asma) moet hulself isoleer.
Ek praat met my hoof en hy beweer dis nie so erg nie. Ek moet maar besluit wat ek wil doen. Ek het die week aangebly.
Die Saterdag word daar self isolasie vir oor sewentigs aangekondig. Ek het dit toe gedoen op aanbeveling van my hoof ook.
Die voorsienigheid was weereens dat ek ekstra geld het om verder inkopies te doen en myself te voorsien van die nodige. Omdat ek uurliks betaal word sou ek nie betaling kry nie. Die regering het toe wel geld beskikbaar gestel om werklose mense te help.
Vandag ‘n week later is daar steeds voorsiening vir my gemaak.
Ek het twee weke terug my “Hello Fresh”kossak gekanselleer omdat ek nie heeltemaal tevrede met die varsheid is nie. Ek was van plan om maar weekliks my vars aankope self te doen. Tog het ek ‘n gevoel gehad dat ek maar weer na “My Food Bag” waar ek eers was moet terug gaan. Dit red my vandag want nou is ek ingeskryf by hulle en hulle help eers die persone wat reeds bestel het..
Na dit het ek vir Bertus gesê ek gaan kyk of ek my kruideniersware aan lyn kan bestel want mense bo 70 kry voorkeur omdat hul ‘n hoër risiko loop om besmet te raak. Die aflewering van ware is egter weke reeds vol bespreek. Ek het my lysie opgegee en na die betaal en aflewering deel gegaan. Weer voorsiening: daar is ‘n oop plek op die derde April om dit af te lewer.
Dit versterk beslis my geloof dag God in beheer is en sal voorsien in Sy tyd. Tog help dit nie om maar op n hoop te sit en te hoop dat iets uitwerk nie, mens moet jou deel dubbel en dwars ook doen.
Daar is nog heelwat insedente wat ek kan oproep waar God op Sy tyd uitkoms gegee het.
Pas julleself op en wees veilig.
Laat ‘n boodskap