Hierdie wasdag het so vinnig gekom dat ek skaars tyd het om my draaie behoorlik te loop. Die wind waai asof hy daarvoor betaal word. Dis kurk droog en daar is geen vooruitsig vir reën nie. Ek het weer die nuwe skooljaar aangepak en alles is weer volstoom aan die gang.
Hierdie week se skrywe gaan oor sport. Ek het die s bygevoeg vir ingeval iemand liewers sports wil maak en ons bietjie laat lag.
Almal wat Afrikaans is kan saam skryf. Skryf iets oor sport en plak jou skakel in die kommentaar sodat ander lesers ook jou skrywe kan lees.
SPORT
Hierdie stukkie kom uit my “Memoirs”wat ek besig is om te skryf. Dit gaan ook sport gedurende ly laerskool dae. Ek sal dit waardeer as jy kommentaar lewer. Dink asb aan die volgende.
- Lees dit maklik?
- Is dit kleurvol beskryf?
- Sal jy graag meer wil lees?
Laerskool sport in n vierman plaasskooltjie
(vierman- net vier onderwysers en vier klaskamers.)
Mnr Snyman(die hoof) het in die winter korfbal afgerig. Ons het soms vriendskaplike wedstryde in Pretoria gespeel; omdat ons ‘n klein skooltjie was het ons nie eintlik uitgespeel nie. Ek het senter of aanvallende vleuel gespeel. Almal wat kon speel was in die span.
In die somer het ons weer atletiek geoefen. Ek was goed met hardloop, moet bysê ons was net ons drie vriendinne en drie seuns Johan Scheepers wat sy een wysvinger weggeskiet het met n slagdoppie; Pierre van Dyk, seun van ‘n melkboer; Francoise Burger, regte windtie.
Ongelukkig kon my vriendinne nie regtig hardloop of korfbal speel nie. Ek moes maar saam met die seuns hardloop as daar geoefen is. Dit was ‘n goeie uitdaging vir my om beter te doen en ook vir die seuns om my te wen. Ek het hul goed opdraende gegee met die hardloop.
Die grootste geleentheid van die jaar was die bokkesport; die spanne het bok name gehad vandaar die naam bokkesport.
Die opdeel van die skool se kinders, in twee spanne, was met tye ‘n hele drama. Families was meestal in dieselfde bok-span omdat veral die jongeres by boeties of sussies wou wees, terwyl die ouer kinders nie in dieselfde span as kleintjies wou wees nie.
Wie onthou nog die volgende:
Jêm-blikke, vis-blikke
Drie by drie
Weet julle, weet julle, weet julle wie?
Kan julle, kan julle, kan julle raai?
Ons is, ons is, Rooibokke BO! (of groot lawaai vir die ander span)
Derigente is kleurvol opgetooi en het gespring, dans en lawaai om gees te vang. Die span was meestal so begeesterd deur die derigente dat hoor en sien vergaan het. Die atlete het almal wit rokkies aangehad met ‘n groot roset op die bors in die kleur van jou span. Die nie-atlete moes iets in die span se kleure dra vir die dag.

Die ouers sorg vir lekker eetgoed terwyl die program deur die loop van die dag afgehandel word. Die hoogtepunt vir die twee spanne was meestal die aflosse omdat daar dan die sterkste kinder gebruik kon word om te hardloop, en die laaste punte in te samel.Die punte verskil het altyd vir opwinding gesorg.
Boeresport items soos sakresies, eierloop, driebeen resies, het die dag afgerond. Donkieresies of vang die vark was meer vir die volwassenes wat dan ook baie plesier verskaf het vir die toeskouers. Daardie geleenthede is baie besonders gewees. Almal het gehelp en deelgeneem.
In my standerd vyf jaar sou ek die beste meisie atleet gewees het. Ongelukkig het dit nie so uitgewerk nie. Engela, het so ‘n week voor die bokkesport ingekom. Sy het my op die einde met skaars ‘n tree gewen en die beker gekry.
Net so terloops:
Na so n sportdag was ons toilette ‘n probleem. Die toilette was groot swart emmers met hout sitplekke. Na ‘n funksie was die toilette vol en moes leeggemaak word en met jeyes fluid gewas word. Soms was dit nie skoongemaak as ons Maandag by die skool kom nie. Dis darem meestal daardie Maandag leeggemaak. Beslis grillerig gewees.
Kameel het n pragtige stuk oor handewerk geskryf
https://kameel179438031.wordpress.com/2020/01/28/kameel-handwerk/
Toortsie het ook heerlik oor handewerk geskryf
Baie dankie julle getroue ondersteuners. Ek waardeer jul deelname baie.
Laat ‘n boodskap