Maandag is weer hier en ons hang weer wasgoed uit. Ons kry nogal koud, dis woes winderig en beste is dit reën saggies nog die hele dag. Kom en deel asseblief iets oor jou drome met my en ander lesers. Ons skryf Afrikaans en geniet ons gate uit.
Dankie aan Kameel wat ewe getrou geskryf het.
https://kameel179438031.wordpress.com/2020/01/08/kameel-2020-bang/
Ek gaan Frannie se skakel ook hier insluit want dit beskryf haar indrukke van haar verblyf by haar dogter. https://frandr.wordpress.com/2020/01/06/onverdiende-guns-alleen/
Drome
Drome kan nogal ‘n deel van mens se lewe wees. Ek is bv van nature ‘n dromer. Ek het nie net die nag nodig om te droom nie. Bedags is met tye n lekker ontsnapping om te sit en droom of dan eintlik dink oor dinge wat eintlik nie regtig moontlik is nie. Dit keer my nie om steeds aan te hou met droom nie.
Ek kan ook snags behoorlik droom. Dit is meestal baie duidelik en ek kan groot dele daarvan onthou. Wat my soms pla is dat ek sekere dinge oor en oor kan droom. Ek het al probeer uitvind of dit iets is wat ek geëet en of dit dalk ‘n opwindinde dag was. Steeds geen resultaat of oplossing nie.
Gisteraand of dan vanoggend vroeg, ek droom meestal vroeg soggens, droom ek die volgende.
Ek staan in my kombuis. Dis ongewoon warm om die yskas. Die vriesdeel se deur staan oop. Groot sakke met maalvleis en gemengde groente wat reeds ontdooi het is in die deel. Ek vat die geysde blokke wat mens in die koelsak gebruik en pak dit rondom die warm vleis en groente. Dis egter so warm ek kan nie aan die yskas vat nie. Nou moet jy weet my kombuis is piepklein. Agter my voel ek ook die hitte. Dis toe die stoof wat ook warm is. Die plate is egter nie aangeskakel nie.
Voordat ek te warm kry en sweet, word ek wakker. Nou wonder ek, hoekom nou juis die ontvrieste goed en die warm yskas. Nee wat, dit maak nie sin nie. Dit was egter so duidelik asof ek daar gestaan het.
Op die oomblik is ek besig om Annelie Botes se boek Kammaland te lees. Sy is darem maar ‘n skryfster duisend. Haar beskrywings is so helder asof mens by haar staan en alles sien. So met die lees saam droom ek ook van so ‘n bootreis op die kanale. Dit sal darem heerlik wees om net ongebonde dag vir dag vir n tydperk te kan beweeg. Ongelukkig kan mens dit nie alleen doen nie. Jy moet n goeie maat hê om alles mee te kan deel. In Annelie se geval ontdek sy en haar man mekaar weer.
Dieselfde met my droom om ook dalk eendag ‘n stuk van die Camino te kan loop. Daarteenoor kan ek egter dalk hier in New Zealand ‘n pelgrimstog doen. Ek droom reeds van die Aroara wat so mooi is hier in die winter. Dalk word my droom, nader aan die huis, tog eendag waar.
Laat ‘n boodskap