Dis weer Maandag en dit gaan die laaste Wasdag vir die jaar wees. Ek gaan vir tien dae weer plaas toe. Hierdie keer gaan dit beslis nie ‘n gejaag van skape wees nie want die plaas se kampe is behoorlik afgekamp. Daar is wel ‘n koei wat die eienaar nie vertrou nie, so, ek bly maar uit die kamp vir die paar dae. Die koei beter haar gedra!
Die laaste Wasdag gaan oor sintuie. Vertel assebeblief van jou ondervindings waar jou “sintuie”jou gehelp of gered het, of sommer net ‘n lekker terugdink vertelling.
Almal is welkom om te skryf. As jy so voel plak asseblief jou skakel in my kommentaar sodat ander ook kan lees en saamkuier.
Dankie aan die volgende ouens wat lekker saam geskryf het oor briewe:
Christa het ‘n goeie hand vol briewe genoem, Troepie, Kyse, stalker, en dan manlief ook
Kameel sê sy het nie regtig briewe geskryf nie tog is daar ‘n paar wat sy onthou
https://kameel179438031.wordpress.com/2019/12/17/kameel-briewe/
Vuurvliegie onthou met hartseer van ou briewe en fotos en ook haar skrywe aan haar Rots

Sintuie 2019
Ek verlang sommer
Interessant hoe ‘n mens se sintuie inwerk op jou gedagtes en denke.
Soggens as ek met Trompie loop, loop ek verby die klein plasie wat net oorkant die straat is van waar ek op die oomblik bly.
Daar is ‘n reuse Totara boom wat net binne die omheining in die weikamp groei. ‘n Troppie van so sestien skape wei hier. Die skape gebruik nie regtig die boom vir koelte nie. Dit lyk vir my of hul dit meer vermy as wat hul dit gebruik. Noudat dit warmer word en dit gereeld reën skuil die skape wel met tye onder die boom. Op die oomblik het die skape hul slaapplek vir die nag onder die boom gemaak. Hul hou nie regtig van die plek nie want dit is saans vol in die straatlig se lig, en dan is dit ook naby aan die sypaadjie waar mense met hul honde loop. Die skape is skrikkerig vir die mense en honde.
Om terug te kom op die loop en sintuie. Vanoggend loop ek verby die boom en skape wat rustig lê en herkou. Die reuk van skaapkraal kom aangesweef op die windjie en ontsluit ‘n deeltjie in my gedagtes oop.
Ek verlang toe sommer net na my boerdery dae.
Daardie vars mis en urine in die stal of kraal het my sommer nostalgies gemaak.
Ek en my ouers het met melkbokke geboer.(1960-1980)
Elke bokooi het ‘n naam gehad. Elkeen het ‘n eie hokkie/stalletjie gehad waarin hul snags geslaap het. Sodra die son sak is meeste al in hul eie slaapplekkies en kon mens net die hekkies toemaak sodat die rondloper of moeilikheid soeker ooi nie ‘n ander hok oorneem nie. Daar is altyd die ooie wat nie hul eie plek wil gebruik nie, hul moet met die ander karring.
Soggens vroeg wag hul soet in hul hokkies om een-een uit te kom om gemelk te word en dan uit te gaan na buite toe. Natuurlik is daar ook altyd een wat ongeduldig is en staan en blêr om eerste gehelp te word.
Daardie vroegoggend se inloop in die stal, en die reuk van vars mis en urine was duidelik op die voorgrond vanoggend.
Selfs die geblêr van die skape neem my terug na die geblêr van die ooie as hul lam, as hul hul lammers roep om te kom drink of sommer net met die lammers saggies gesels terwyl hul lammers drink. Daar is ook altyd een ooi wat meer bekommerd of beskermend is. Sy sal gedurig loop en blêr op soek na haar lam wat heerlik saam met die ander lammers huppel, spring en baljaar as die weer ‘n bietjie koeler is.
Sintue speel ‘n belangrike rol in mens se lewe. Dink maar aan dowe of blinde mense. Hulle gebrek maak dat die ander sintuie skerper ontwikkel en gebruik word.
Ek is dankbaar dat ek steeds op amper vier en sewentig jarige ouderdom nog kan sien en hoor om my omgewing te kan beleef.
Mag jul alger ‘n geseënde Kerstyd beleef en ook ‘n nuwe jaar met nuwe avonture.
Tot volgende jaar!
Scrapy.
Laat ‘n boodskap