My nuwe laptop het gister al “gecrash”. Vandag het hy halfpad gewerk en toe weer “gecrash” volgens aanwysings. Ons het egter erge wind en weer gehad wat die internet met rukke uitgeruk het. Gelukkig werk my ou skootrekenaar toe nog. Hy is egter so stadig dat ek omtrent n halfuur moes wag voordat hy my bladsy oopmaak waar ek my stuk wou skryf. Uiteindelik is dit nou gedoen. Hou dume vas dat die bladsy gaan laai.
Honde en loop
Vandat ek ‘n hond gehad het was daar altyd ‘n erf wat hul kon gebruik as toilet.
Toe ek in my eenheid, Villa Paloma 3, intrek het ‘n loop probleem opgeduik. Daar was nie ‘n tuin nie. Voorste deeltjie was geplavei; die agterste deeltjie ook.
Ek het drie honde gehad daardie tyd. Boesman ‘n groot boerboel; Nancy en Bobby twee miniatuur Schnauzers. Hul het, in geval van nood, agter hul besigheid kon doen. Ek moes daagliks met die honde loop omdat hul geleer het om nie in die huis te mors nie.
Soggens vroeg, voor ses, het ek die drie brakke in die kar gelaai en na die sportveld buite Potgietersrus geneem om hul dinge te doen en sommer vir oefening ook. Daar was nie regtig ‘n noemenswaardige sportveld nie. Net Netbalbane wat omhein was met ‘n grondpad aan die een sykant. Verder aan was die golfbaan. Ek het nooit golfbaan toe gegaan nie. Daar was tussen netbalbane en golfbaan maklik ‘n goeie blok bosse tussenin wat met grondpad omsoom was.
Ons parkeer in skaduwee van ‘n doringboom en laat honde uit. Hul het al op die einde geweet dat ons ver gaan loop en het vooruit gehardloop. Gelukkig was die veld baie woes sodat hul nie juis diep in die bosse ingegaan het nie behalwe as hul iets interessants geruik het. Boesman was egter ‘n vreeslike bang ou snaar, en moes my net heeltyd in die oog hou. Hy het dus dadelik teruggekom as ek hom geroep het. Dit was lekker om veral in die somer so vroeg te gaan loop.
Daar was gereeld ‘n duikertjie tussen die bome wat ons gesien het. Sy het later ‘n klein bokkie gekry en dit was te dierbaar om te sien, totdat iemand besluit het om ‘n strik te stel, haar te vang en af te slag. Die kein duikertjie is ook doodgemaak. Die karkas het steeds een oggend daar gelê toe ek gaan loop het. Slegs dele van die bokkie is uitgesny.
Dan was daar ook spore wat oor die pad geloop het. Eers het ek nie geweet watter dier dit was nie totdat ek die miervreter/itermagog in lewende lywe gesien loop het oppad na sy gat. Ek het wel voordat ek hom gesien het die spore gevolg wat na ou hol termiet nes geloop het. Dis hoekom ek geweet het dat hy oppad was na die gat toe. Ek het stadig geloop sodat honde hom nie skrikmaak of jaag nie. Hy het rustig, op n stywe stappie, nes toe gegaan. Van daar af het ek uitgekyk of ek hom nie weer sien nie, wat nie weer gebeur het nie. Ek het elke oggend vir hom more gesê en dat hy lekker moet slaap.
Dis lekker om so met die diere in jou gedagtes te kan praat.

Dit was altyd moeilik om die twee saam af te neem. Nancy was my liefling en Megan die een wat ek gered het van n baas wat n regte boelie was met haar. Sy was tot haar dood vreemd van aard en wou altyd Nancy afknou.
Laat ‘n boodskap