Vrydag
Dis bibber koud vanoggend. Die ryp lê spierwit op die gras dit lyk of dit gesneeu het. Trompie gaan uit vir eerste pieps en kom weer in.
Ek stort en trek aan . Eet my pap. In die tussentyd is daar geen skaap te sien nie.
Trompie bly rusteloos. Ek laat hom agter uit en saam na die hase. Steeds bly hy rusteloos.
Die skape is skielik so teen tien uur hier op die gras by die hase. Ek los hul vir ‘n ruk om maar iets te eet. Trompie bly op en af.

Ek jaag skape na anderkant van die huis waar die sogenaamde renbaan is. Laat die skape toe vir ‘n ruk daar ook wei. Toe ek sien hul wil begin lê om te herkou het ek hul ingejaag.
Interessante was dat Puma saam met my loop. Ek maak die hek oop vir skape, ek en Puma loop om die skape om hul aan te jaag. Die wind het in die tussentyd die hek toegewaai. Soetjies loop ek toe om die skape, om hul nie te verwilder nie. Maak die hek oop en sit ‘n stuk stok voor die hek om dit oop te hou. In die tussentyd is Puma ook by my en die hek. Terwyl ek terug loop om agter die skape te kom bly Puma by die hek sit. Wat wil jy nou meer, die skape wil nie hek toe gaan nie. Hul staan vir die kat en kyk. Dit kos my Puma roep om na my toe te kom, wat hy toe ook ewe soetjies doen. Toe hy halfpad by my is, sjoe ek die skape. Hul staan eers stil maar met ‘n spoed spring hul weg. Die eerste skaap maak eers seker of die hek oop is. En woerts is hul deur die hek om die hospitaal en na die hek waar ek dink hul eintlik deurklim.
Dis interessant om die skape so dop te hou. Daar is een ooi wat voor loop. Sodra sy beweeg, beweeg almal. Ek kan ook verstaan hoekom die herders so ‘n staf met ‘n haak het om die skape wat afdwaal vinnig terug te jaag. Dis tipies skaap, staan eers doodstil om te kyk wat gebeur en om te kyk wat die hoof skaap gaan doen.
Bertus het gister laat weet dat hul Sondag wil kom kuier en die motorfiets saambring om bietjie te ry.
Laat ‘n boodskap