Deel 2
Die tyd vlieg verby en ek moet eintlik daagliks skryf oor al die mannewalise. Ek kan nie meer so goed onthou wanneer wat gebeur het nie.
Ek het Dinsdag more betyds opgestaan omdat ek dorptoe wou gaan. Ek het my goeie vriendin belowe dat ek haar steeds vir ‘n koppie tee gaan ontmoet.
Ek het die katte versorg en ook die hase voordat ek en Trompie die pad kon vat. Dis steeds reënerig en sterk bewolk. Ek het vier dae se eiers ingepak. Die hoenders lê elke dag ten minste 12 eiers. Daar was amper vyftig eiers!
Met die afry na die hoofpad ry ek verby ‘n klompie skape wat sommer so tussen kampe langs die pad staan. Ek kyk dit so! Hul lyk nogal na my skape, droom ek of wat?
In Upper Hutt aangekom was dit darem droog maar steeds baie dreigend.

Trompie was nogal bly om in sy eie huis te wees. Ek het die helfte van die eiers vir my bure gegee. Sy was baie bly daaroor. Die ander helfte wou ek by die versorgings huis oorkant die straat afgee maar dit het toe nie gebeur nie. Sal dit maar as ek tuiskom vir hulle gaan gee.
Ek het begin om bestellings reg te maak en het ook ‘n paar vrae gehad omtrent die bestellings wat ek met Bertus moes bespreek. Net na tien gaan ek dorp in om vir my vriendin te wag. Toe sy kwart voor elf nog nie daar is nie het ek maar op my eie gaan eet en ‘n teetjie gedrink. Dit was lekker pas gemaakte macaroni en kaas gewees. Te heerlik.
Tuis gekom het ek die bestellings klaar gepak en reggesit om dit weg te stuur.
My nanny nap was volgende. Toe ek weer uitgerus was het ek die bestellings gepos en sommer twee legkaarte gekoop by die pos-winkel. Die ding staan so: as daar twee vir amper die helfte van die normale prys aangebied word kan ek myself nie keer nie. Ek het twee Wasgij’s gekoop.(hul is nog in die kar, ek vermoed nie ek sal hul hier bou nie)
Gou by winkel brood en jogurt gekoop vir die res van die week en ek is weer terug plaas toe.
Tuis gekom, wat sal ek sien? Die skape langs die pad is weg en staan bo op die bultjie hier by die huis en wag om by die hek in te gaan. Gelukkig was dit ‘n bietjie droog en ek het my modderskoene aangetrek en hul teruggejaag.
Ek het darem eers vir Trompie in die huis toegemaak voordat ek die skape gejaag het.
Die volgende wat ek toe doen is om die katte hul kos te gee. Na dit laat ek Trompie agter in die tuin uit. Hy snuffel rond en ek loop saam om te kyk wat in die groentetuin aangaan. In die tussentyd hardloop Trompie weer terug huistoe om verder te snuffel. Dis net daar waar hy sy Moses teekom. Hy wil hoeka snuif waar die katte wegkruip. Compton die swart en wit kat besluit hy het genoeg van die hond gehad. Hy gryp vir Trompie. Trompie hardloop al tjankend na my toe met die kat agterna. Ek sjoe die kat weg want die wil net baklei. Dit kos my om Trompie op te tel en in die huis te sit.
Trompie is heel lugtig om nou sommer buite loop.

Deel 3

Vanoggend, Woensdag, het die sonnetjie bietjie geskyn. Raai waar is die skape? Hier by my in die tuin. Ek kannie verstaan waar hul uitkom nie. Dis toe net ses skape. Die res is nerens te sien nie. Ek jaag hul toe eers weer in en gaan kyk aan die anderkant om te sien of die klomp skape weer doer onder langs die pad is. Sowaar, daar was hul toe. Ek klim in my kar en ry tot daar. Probeer om hul uit die gangetjie tussen kampe te jaag. Alles verniet. Hul bly telkens dieper in hardloop. Ek gee toe moedop. Ek wil nie val en iets oorkom nie.
Net na een lui die telefoon. Dis toe die bure wat vra of dit dalk ‘my’ skape is. Ek verduidelik dat ek probeer het om hul aan te jaag. Die buurvrou se toe sy sal na werk ‘n plan maak en hul vir my terugjaag. Die probleem is hul sal more weer uitgaan as ek nie weet waar hul uitkruip nie. Buurvrou verduidelik toe dat ‘n elektriese heining nie die skape keer nie hul vag is te dik, hul voel niks nie.

Dit reen weer verder. Die klomp skape het toe weer tuis gekom so net na vier. In die gietende reen het ek die hek gaan oopmaak en hul ingejaag. Ek het eers gedink ek gaan nie nog na die hoenders nie maar aangesien ek reeds nat was kon ek maar netsowel die hoenders voer en sommer bult op loop om te kyk of die boonste hek toe is. Hy was toe nog toe, so die spul gebruik beslis nie die boonste hek as uigaanplek nie, hul moet dus die elektriese heining gebruik om uit te kom. Dis ook hoekom hul na die ander hek toe gaan aan die sykant want hul weet hul word daar ingelaat as hul terug kom.

Nou het ek eers vir my heerlike kapokaartapels, groenboontjies en skaap boud tjops gemaak vir aandete. Die vuurtjie brand in die kaggel en ek gaan nou rustig sit en skryfwerk doen.
Laat ‘n boodskap