Jammer, jammer, mense ek het die inskrywing reeds in no 9 gedoen!
Hiers ons weer op n Maandag en Maandag =Wasdag.
Skryf mense, skryf.
Afrikaans is n heerlike taal om te gebruik. Almal wat Afrikaans is kan saam met my skryf. Ek gee n paar sleutelwoorde om te gebruik as jy wil, of jy kan net sommer skryf , solank dit in Afrikaans is en jy dit geniet. As jy wil kan jy jou skakel van jou geskrewe stuk in my kommentaar plak sodat ander ook jou storie kan lees.
Kameel het verlede keer n stuk oor n boom geskryf. Baie dankie daarvoor Kameel.
Hier gaan ons dan vir vandeesweek se Wasdag:
Sleutelwoorde: opgewonde, kosbaar, liefdevol, spontaan
Kinderliefde en vertroue
Dit is interessant om te sien hoe ‘n enkele woord, gedagte of aanmerking ‘n mens se gemoed kan omkeer in chaos of net pure geluk en rustigheid.
Ek loop al die hele week en dink aan die optrede van verskillende kinders wat by my in Voorskool is. Daar is die liefdevolste pragtigste kinders. Elkeen het ‘n besondere manier om hul gevoel uit te druk.Die dogtertjies is sag en liefdevol terwyl die seuns lawaaierig en opgewonde kan wees.
Danni-Lee
Sy het in die begin van die tweede termyn as vyf jarige begin. In die begin was sy half skrikkerig om te bly en wou bietjie aan haar ma vasklou. Ma het egter ferm gestaan en haar by my gelos. Sy is n juweeltjie, een wat van alles meer wil weet en kan baie slim antwoorde gee. Sy glimlag altyd en is baie gemoedelik. Die ma werk drie dae in die week. ‘n Lang dag vir ‘n kind van vyf. Sy kom net na half agt in en gaan eers half ses die aand huistoe.
Donderdag middag toe ek by die skool kom was sy en 4 ander kinders in die kantoor om hul toekennings in die algemene kassie te gooi. Toe sy my sien verhelder die gesiggie sommer en sy verduidelik aan my wat sy gewen het. Clara, ook vyf jaar, was ook in dieselfde groepie. Sy was netso opgewonde om vir my te vertel oor die toekenning.
Hierdie erkenning en vertroue wat die tweetjies aan my getoon het het my hart sommer laat swel van liefde en trots dat die tweetjies my uitkies om hul geluk mee te deel. Alles spontaan en vol kinderlike liefde.
Dieselfde Donderdag middag val klein Danni-lee haar knietjies nerfaf. Sy was in n toestand van skok. Net ek kon haar help en weer kalmeer. Sy was baie dapper en wou op die einde nie ‘n pleister op die seer knie hê nie. Haar pa het haar opgelaai. Tipies man, nie regtig enige simpatie nie net ‘n – dit was nie te erg nie en sy sal dit oorleef. Ai toggie, ook maar ‘n harde lewe.
Nog iets wat heel kostelik van Danni-Lee is is dat haar ma haar party oggende met die fiets skooltoe bring. Mamma is self ‘n kort op en wakker mens. Sy kom meestal net op die hoek van die straat waarin ek moet afdraai aan as ek daar kom. Sy het Danni-lee voor op die fiets, klein boetie in die dra-sitplek agterop. Ma steek haar hand uit om regs te draai. Ek wag meestal dat sy kan indraai. Met die draai waai ma en Danni-Lee dan vir my. Dis te dierbaar vir woorde.
Vrydag het ek gaan kyk waar ander kinders is en kom toe af op die gesinnetjie. Mamma is besig om Danni-Lee se valhelm op te sit. Danni-lee kom opgewonde na my toe en verduidelik dat haar oupa en ouma ook daar is om haar op te laai. Elkeen het ‘n fiets. Dis kosbare oomblikke wat die lewe die moeite werd maak.
Charlotte is teenoor Danni-Lee ‘n heel ander kleintjie. Sy sit met twee ouers wat weg van mekaar is en elkeen weer hul eie aanhangsels het. Arme kind weet party dae ook nie meer hoe of wat om te verwag nie. Die eerste deel van die week is dit die ma wat haar oplaai en aflaai en die tweede deel is dit pa wat dit doen. Ek moet sê die pa is meer betroubaar as die ma. Pa se nuwe girlfriend, wat self drie kinders het, kom haal haar as die pa nie self kan kom nie. Die ma se boyfriend is nie so betroubaar nie. In die tussentyd weet die kind nie wat alles aangaan nie. Nou die oggend het ma haar gou by voorskool afgelaai. Charlotte het net daar gestaan en vir my gekyk asof sy wil vra ek moet iets doen of haar help. Sy is baie afhanklik van volwassenes. In die begin het sy gesukkel om aan te pas maar sy het nou uitgevind hoe sy moet maak om aandag te kry en ook haar kop bo water te hou met al die strome wat om haar beweeg.Gister vertel sy dat haar ma vir vyf dae nie tuis was nie. Glo ‘n begrafnis iewers. Sy moes by pa bly en ‘n kamer deel met ‘n stiefboetie van sewe(sy is vyf) wat nog ‘n doek moet dra in die nag. Vanoggend bring ma haar na voorskool want Charlotte se juffrou is nog nie in die klas nie. Ma het ook haar skooltas by die huis vergeet en moes dit gaan haal. Charlotte bly agter haar ma wegkruip en wil haar nie los nie. Ek paai haar maar sy wil niks weet nie. Toe ek sê sy moet langs my kom sit was die Kaap weer Hollands. Sy het heerlik met my gesit en gesels. My hart gaan uit na haar maar ai, ek sien moeilikheid vir die toekoms met haar.
Dan is daar die seunskinders wat weer heeltemal anders reageer op prikkels uit die omgewing.
Daar is Ryan,Jesse en Jasper wat gedurig saam speel en tussenin met mekaar moeilikheid kry. Beste is hul sal vir my vrae kom vra en ook om hulp vra. Hul kan egter ‘n hand vol wees as hul die dag lus is en veral as dit n reënerige dag is en hul binne moet bly. Tog bly ek lief vir hulle al maak hul mens party dae gedaan.

Laat ‘n boodskap