Boetie sy’s ‘n Perskblom was en is steeds vir my die lekkerste en mooiste liedjie om volkspele op te doen. In my derde jaar moes ons ‘n ekstra vak doen wat ons nog ‘n kwalifikasie gegee het. Ek het Volkspele gedoen. Die saal waarin ons dit gedoen het was ‘n gimnastieksaal met ‘n plank vloer wat heerlike wieging gegee het terwyl ons gedans het.
Ons het in dieselfde saal skrif en bordwerk gedoen. Dit was vir sekere ouens heerlik om aspris die vloer te laat beweeg sodat mens nie beheer oor jou skrif op die skryfbord gehad he nie. Dit was net onmoontlik om jou beste skoonskrif te skryf.
Iets wat ek ook nog goed onthou is dat ons, as gesin, gereeld na Volkspele kompetisies gaan kyk het. Dit is meestal, as ek goed onthou, op Pilditch stadion gedoen. Die toeskouers en ondersteuners het hul eie stoele en komberse saamgebring en op die graswalle gesit om te kyk. Die optredes was asemrowend gewees. Die volkspelers, in hul kleurvolle voortrekkerokke en kappies, met die mans in hul geborduurde onderbaadjies . Elke streek het hul eie kleur gehad en daar is gekompeteer om die beste optrede aan te bied. Daar was ook ander lande met hul tradisionele danse. Die mooiste was steeds die Suid Afrikaanse volkspelers. As ek reg onthou kon dit so in 1955-58 gewees het wat ons die optredes in Pretoria bygewoon het.
Laat ‘n boodskap