Boetie sy’s ‘n Perskeblom

Boetie sy’s ‘n Perskblom was en is steeds vir my die lekkerste en mooiste liedjie om volkspele op te doen. In my derde jaar moes ons ‘n ekstra vak doen wat ons nog ‘n kwalifikasie gegee het. Ek het Volkspele gedoen. Die saal waarin ons dit gedoen het was ‘n gimnastieksaal met ‘n plank vloer wat heerlike wieging gegee het terwyl ons gedans het.

Ons het in dieselfde saal skrif en bordwerk gedoen. Dit was vir sekere ouens heerlik om aspris die vloer te laat beweeg sodat mens nie beheer oor jou skrif op die skryfbord gehad he nie. Dit was net onmoontlik om jou beste skoonskrif te skryf.

Iets wat ek ook nog goed onthou is dat ons, as gesin, gereeld na Volkspele kompetisies gaan kyk het. Dit is meestal, as ek goed onthou, op Pilditch stadion gedoen. Die toeskouers en ondersteuners het hul eie stoele en komberse saamgebring en op die graswalle gesit om te kyk. Die optredes was asemrowend gewees. Die volkspelers, in hul kleurvolle voortrekkerokke en kappies, met die mans in hul geborduurde onderbaadjies . Elke streek het hul eie kleur gehad en daar is gekompeteer om die beste optrede aan te bied. Daar was ook ander lande met hul tradisionele danse. Die mooiste was steeds die Suid Afrikaanse volkspelers. As ek reg onthou kon dit so in 1955-58 gewees het wat ons die optredes in Pretoria bygewoon het.


Posted

in

,

by

Comments

14 reaksies op “Boetie sy’s ‘n Perskeblom”

  1. Kameel Avatar

    Ag jy praat so na aan my hart. My ma het Volkspele rokke gemaak, en vir my was dit die mooiste mooi om na die kompetisies te gaan kyk in die Johannesburg se stadsaal. Ek was net ‘n dogtertjie daardie jare, maar onthou dit so goed.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ek was ook maar in die laerskool maar dit het my verbeelding goed in werking gestel met drome van die pragtige rokke en n boere-klong op sy perd. Mmm lekker ou lekker. Die rokke was pragtig en ook die nekdoeke van kant.

      Liked by 1 person

  2. Dr Christa van Staden Avatar

    Ek stem, goeie herinneringe

    Liked by 1 person

  3. HesterLeyNel Avatar

    Ek wou altyd so graag Volkspele gedoen het, maar my ouers het dit beslis afgekeur. Dit was “dans” en dus “sonde”. Ek onthou, met die 1966 5-jaar Republiekfeesviering het ek saam met ‘n Voortrekkergroep Pretoria toe gereis. Daar is, omder andere, ook Volkspele aangebied en talle ander lande het deelgeneem. Ek was in absolute vervoering en kon nie genoeg daarvan kry nie.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dit was vir my ook die mooiste opvoerings. Statig en waardig met die hoflike buigings voor en na elke dans.

      Liked by 1 person

  4. Toortsie Avatar

    Ek het net in st 3 die voorreg gehad om deel te wees van ‘n volkspelegroep wat by die eisteddfod gaan dans het. Ek was mal daaroor.
    Op universiteit was daar van my vriende deel van so ‘n kompetisie en ek was so jaloers. Hoe hulle daarby uitgekom het, weet ek nie. Ek kan net wens!

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dis lekker om te doen. Heel ontspannend omdat mens lekker saam kan sing ook.

      Liked by 1 person

      1. Toortsie Avatar

        Ek sou dit graag goed wou doen.

        Like

        1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

          Dis maar baie oefening. My een skoonsuster en haar man het vir Volkspele gelewe. Dis lekker as jy n maat het wat ook belangsel.

          Liked by 1 person

  5. rondomtaliedraai Avatar

    Dit het ek nooit geweet nie… vol verrassings jy!

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Van Volkspele of van die bywoon van kompitiesies. Jy moes al in skool gewees het toe ons gaan kyk het. Onthou jy ons het na die Hollandse swem ook gaan kyk

      Liked by 1 person

      1. rondomtaliedraai Avatar

        Ek onthou van die gaan kyk maar kan glad nie onthou dat jy deelgeneem het. Ja ek onthou die swem

        Like

        1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

          Nee man jyt die kat an die stert beet. Ek het nie deelgeneem nie. Was nog te klein!

          Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.