Maandag 29 Julie 2019. Waar hardloop die tyd heen? Hier is dit weer wasdag. ‘n Ieder en ‘n elk wat Afrikaans is kan lekker saam kuier hier op Maandae. Ek gee n paar woorde waarvan jy een kan kies, of almal, of geen een nie. Solank jy dit net geniet. As jy so voel kom deel jou skryfsel met my en ander bloggers deur jou skakel in my kommentaar te pos.
Lekker skryf en geniet jou gate uit.
Verlede week se onderwerp/opdrag het nie veel opgelewer nie. Ek verstaan ter dee hoekom dit nie aftrek gehad het nie.
Christa het ‘n mooi stuk geskryf oor haar omgewing. Lees gerus hier.
Sleutelwoorde: haastig, afkeur, politiek, ryp, rose
Ek was van plan om afkeur te gebruik maar het daarteen besluit omdat dit vir my ‘n te diep deeltjie van my lewensondervinding is.
Hier is sommer net ‘n mooi oggend in my daaglikse lewe.

Die oggendstond het goud in die mond
Dit was 26/06/2019
Vanoggend was een van daardie sprokie mooi oggende. Daar was geen wind. Dit was koud maar nie te onplesierig koud nie. Op die oomblik is dit nog donker as ek begin skooltoe ry. Ek moet meestal by die verkeerslig wag om links te draai in ‘n oostelike rigting. Dit was bewolk maar regtig besonders bewolk; daar was meer lae miswolke in slierte teen die heuwels. Die Hutt rivier op linkerhand was egter ‘n toneel uit ‘n sprokie. Die water was blink glad en die mistigheid het saggies opgestyg vanaf die skitterende wateroppervlakte . Met die lig wat besig is om stadig helderder te word, verander die landskap in n sprokieslandskap. Die kleure was nog in grys en swart. Ek het my verkyk aan die toneel en het baie dankbaar gevoel dat ek die prentjie kan sien met oë wat nog kan sien en ‘n verstand wat dit nog kan waardeer.

Laat ‘n boodskap