Nog ‘n Maandag het aangebreek. Dit is reënerig en die wasgoed kom nie maklik droog nie. Ons het winterreën, so ek moenie kla nie. Meeste mense het darem ‘n tuimeldroër(wat ek nie het nie.)My goedjies word maar binne in die sitkamer op ‘n droograkkie gehang.
Gelukkig maak die weer nie saak nie. Mens kan lekker knus binne sit en skryf.
Jy mag enige woord of al die woorde gebruik. As hul jou nie aanstaan nie mag jy sommer jou eie vertelling doen. Plak asb jou skakel in die kommentaar sodat ander ook jou storie kan lees.
Solank jy Afrikaans skryf. Afrikaans is ‘n pragtige taal.
Dankie aan Kameel en Toortsie wat lekker oor reis geskryf het.
Ek sing die hele verlede week al ‘Al die veld is vrolik’ want die woorde rol so lekker, en beskryf so mooi die prentjie. Telkens as die son so uitkom en alles skoon gewas en heerlik warm is, kom die liedjie weer en weer in my kop as ek met Trompie my lopies loop.
SLEUTELWOORDE: bestuur, beperking(s),dink/bedink,keuse, vermaak.
Ek leer bestuur.
Vrydag, 13 Junie 1969, spitstyd in Pretoria, het ek my motor bestuur(ders) lisensie gekry!
Ek het in 1968 begin skoolhou by Hennopsrivier Laerskool. Sonder ‘n bestuurs lisensie was ek beperk tot, huistoe en skooltoe, vervoer te word met ou tannie van Staden se hobbelrige laerskoolbus. Daar was nog ‘n stuk grondpad wat met tye half onrybaar was. Die grondpad moes deur ‘n padskraper geskraap word. Na erge reëns was die stuk vol gate. Dit daar gelaat.
Terwyl ek so karloos was het my Pa my leer bestuur. My Pa het ‘n nuwe poeierblou bakkie gehad waarop hy baie trots was. Hy het lank gespaar voordat hy ons ou Oldsmobiel( wat op die end net nie verder wou nie)ingeruil en die nuwe bakkie gekoop het.

Sondae, vroeg oggend, het ons die pad gevat. Ons het op ‘n plot gebly langs die ou Krugersdorp pad. Ek draai regs op die teerpad. Gaan ‘n stywe bultjie oor en dan redelik reguit. Dan draai ek links af op die Knoppielaagte pad. Dit was ‘n heerlike stil stuk pad. Volgende ry ons verby die agterkant van die Zwartkop inryteater. Weer links gaan ons Erasmia toe.
”Hou by die spoed wat ek moet ry,” dink ek soos ek ry. Dan terug met Krugerdorp pad en terug huistoe. Ander Sondae het ons die anderkant om gery.
Alles het heel goed verloop. Een Sondag besluit my Pa dat ons Pretoria toe moet ry om die stop by verkeersligte te probeer. Ek ry ewe rustig my spoed die oggend. Verby die gevangenis se groentetuine en om so ‘n slap draai wat half ‘n afdraandtjie was ook.
Langs die pad staan ‘n motor geparkeer. Ek sien hom. Ongelukkig is ek nog nie so vinnig met my bewegings nie! Die bestuurder besluit om sy flikker aan te sit en draai sommer, woerts, voor my in. Die keuse om die rem te trap het te stadig gekom. Ek ry so ewe, pardoems, met die linkerkantste voorlig teen die agterkant van die ander motor.
Dit was ‘n helse skok vir my, asook my Pa. Die ander bestuurder spring uit die motor en beduie met hoge taal wat hy van die stamp dink. My Pa kon nie ‘n woord inkry nie. In die tussentyd het ek eenkant gestaan en luister na die die gekibbel. Die ander voertuig het ‘n dame in gehad wat ook uitgeklim het. Sy kom staan by my.
“Jy weet, jou Pa beter oppas vir my seun. Hy is ‘n verkeersbeampte. Jou Pa beter sy woorde tel. Hy gaan in groot moeilikheid kom as hy wil terugpraat.” Ek skrik my yskoud. Op die einde sê my pa ons moet polisiestasie toe gaan en die saak gaan aangee.
Die ou bly dreig:”Dis julle skuld en jul sal die skade moet betaal. Bla bla bla” gaan hy aan.
Ons klim in die bakkie en my pa bestuur. Ons meld by polisiestasie in Pretoria-Wes aan. My Pa het verduidelik dat:
Ten eerste, het die ou langs die pad gestop wat op ‘n draai was en ‘n vol sperstreep gehad het.
Ten tweede, het hy sonder om te wag en te kyk of daar iets aankom, voor my ingedraai. Hy het wel sy flikker aangehad.
In die tussentyd bly ons uitkyk vir die ou om op te daag. Wat toe nooit gebeur het nie. Toe ons die man se naam vir die polisie gee was die reaksie:
”Moenie bekommerd wees nie. Ons ken hom baie goed. Hy is ‘n ou kalant wat al baie ongelukke veroorsaak het.”
Na hierdie ondervinding het my Pa nie kans gesien om my verder te help nie.
Ek het toe bestuurslesse geneem. Ek het vyf lesse bespreek. Die probleem was dat ek nie elke dag kon gaan nie omdat ek van Hennopsrivier skool af ‘n geleentheid in stad toe moes kry. My Pa het my na die tyd wel in Pretoria-Wes opgelaai.
Die rylesse het baie goed gegaan. Toe ek my vierde les gedoen het, het die instrukteur gesê hy gaan my inboek vir die rybewys. Ek moes die dag net vroeër kom sodat ek net weer die parkering vir oulaas kon oefen.
Die afspraak is gemaak vir Vrydag 13 Junie 1969, om half vyf(spitstyd in Pretoria)Daardie dae was die toetsstasie in die middestad. My instrukteur het presies verduidelik hoe en waar ek gaan ry.
Eers op die terrein die stop teen ‘n opdraande waar jy met die handrem wegtrek.
Die reguitparkeer en agteruit parkering.
Dan die rit in die straat(stad). Daar kom ‘n dubbele stopstraat waar ek moet links draai.
Om Kerkplein en dan terug na die toetsstasie.
Min het ek besef hoe erg dit is om in daardie spitsverkeer te ry.
Ek daag die middag betyds op en die instrukteur wou hê ek moet vir oulaas weer parkeer. Hy het ‘n stokou Volkswagen kewer waarmee ek moes ry. Telkens as ek agteruit wil ry, gee ek te min petrol, en die enjin stol. Instrukteur duik agter in die einjin, vroetel, klap kap toe en ek moet weer probeer. Op die ou end het ek darem genoeg petrol gegee om my oefening te doen.
Ons het duime vasgehou dat die Volla hom mooi gedra terwyl ek ry. Gelukkig het alles vlot verloop. Toe ek klaar om die plein gery het en oppad terug was; wie sal voor my ry? MY PA, wat oppad was om my te kom oplaai. Dit het my nogal onkant gevang maar ek het my goed gekwyt van my taak.
By die toetssentrum aangekom wag my instrukteur in spanning. Die toetsmeester het hom op en af gekyk en met vermaak gesê:
“Jy bring nie weer hierdie Volksie om mee te ry nie. Sorg dat hy reggemaak word of kry ‘n ander motor!”
“Geluk juffrou, jy het baie goed gedoen.” Wat ‘n verligting. Ek mag nou maar my eie splinter nuwe poeierblou Volkswagen kewer op my eie bestuur.
Laat ‘n boodskap